BIOGRAFIE
Ek is op 9 Augustus 1980 gebore te Wynberg, Kaapstad. As twee-jarige verhuis ons na Caledon waar ons vir ses jaar gewoon het.
Met die aanvang van 1985 begin ek my skoolloopbaan by die Pionierskool (Skool vir Blindes), Worcester waar ek vir twee en ‘n half jaar in die koshuis was. Gedurende 1988 verhuis my ouers ook na worcester waar ons vandag nog bly.
Tydens my skoolloopbaan sing ek in die junior en senior skoolkore. Ek het saam met die senior skoolkoor twee CD’s opgeneem. Ek matrikuleer in 1998.
Na skool voltooi ek my rekenaaropleiding (N6) en kwalifiseer as ‘n rekenaarprogrammeerder.
Ek het vir drie jaar op die Uitvoerende Bestuur van Blind SA gedien.
Ek het ook vir 6 jaar op die uitvoerende bestuur van die Instituut vir Blindes op Worcester gedien.
Ek is ook ‘n kranige skaakspeler. Gedurende 1999 vergesel ek die SA junior skaakspan na die Junior Wêreld Skaakkampioenskappe vir Gesiggestremdes te Kortrijk, België. In 2008 wen ek die eerste maal die SA skaak kampioenskap vir gesiggestremdes. In Maart 2013 wen ek weer die hierdie titel.
In 1998 roep die Here my tot die voltydse bediening. Gedurende daardie jaar neem ek ook my eerste CD, “Change Our Hearts”, saam met Paul Drake op. My eerste optrede was op 14 Februarie 1999 te Malmesbury. Vir ‘n verdere drie jaar sing ek en Paul onder die naam “Gospel Boys”. Drie verdere CD’s sien in hierdie tydperk die lig, nl. “You can make a Difference”, “Shout for Joy” en “I’m Free”.
Die volgende twee CD’s “He Lifted Me” en “New Day” neem ek saam met Yvette op. In 2006 neem my bediening ‘n nuwe wending en ek neem my eerste solo album “Don’t Give Up” op. Hierna verskyn my agste CD “Inspirit” en my eerste DVD onder dieselfde titel. Die lewendige opname van hierdie DVD op 19 April 2008 is een van die hoogtepunte van my bediening.
In 2009 neem ek die groot besluit om al my musiek self te begin maak. Die gevolg hiervan is die cd “Kyk Met Jou Hart” wat in Mei 2010 verskyn.
In 2011 neem ek my eerste Kersfees album, “Dis Kersfees” op.
Gedurende Oktober 2012 verskyn my elfde cd onder die titel “Geloof, Hoop & Liefde”.
In 2015 stel ek my twaalfde album vry met die titel “U Is My Alles”.
In 2018 fier ek my 20ste jaar in die bediening met die album “Ek Sal Sing” wat ek in Oktober 2018 vrystel.
BEDIENINGSAKTIWITEITE
Daar was reeds ongeveer 3000 optredes in verskillende kerke sedert die begin van hierdie bediening. Hierdie optredes vind reg oor Suid-Afrika plaas.
Die optredes bestaan uit Woord en sang bediening. Die tydsduur van elke optrede word aangepas by die behoefte van die onderskeie aktiwiteite.
Die bediening doen graag liefdadigheidswerk onder blindes, bejaardes en weeskinders. Ons beskou dit as ‘n voorreg om in hierdie goue akkers van die lewe betrokke te wees.
Daar word op ‘n gereelde basis donasies gemaak aan verdienstelike instansies. Dit was ook ons voorreg om gesiggestremdes te neem na “Camp Higher Ground”, Natal. Jaarliks hou ons ‘n Kersfunksie vir die inwoners van die Instituut vir Blindes.
Ons is betrokke by uitreik-aksies en help ook graag met fondsinsamelings.
Vir die laaste sowat 10 jaar maak ek ook backtracks vir ander kunstenaars. Ek tree ook op as vervaardiger vir verskeie kunstenaars. Ek is ook ‘n gekwalifiseerde mixing en mastering ingeneur met verskeie albums op my kerfstok.
Ek lewe ‘n vol lewe. Ek is baie gelukkig getroud en ek het ‘n wonderlike seun. Die Here seë my waarlik.